Vrydag, 08 September 2017 07:44

Anders 2017: Nuut!

Geskryf deur Ds Johann Serfontein

Skriflesings: Gen 1:14; Ps 74:17; Hosea 6:3; Jes 43: 18, 19; 2 Kor 5: 16-19

By ons in Namibië word dit nooit erg koud in die winter nie , maar in die noordelike halfrond weet hulle van koue winters met sneeu en temperature wat tot minus 10 en meer kan daal. Daarom is lente by hulle belangrik en word dit met oorgawe gevier, want dit beteken nuwe lewe en groei. Al is dit broos en soms gering, is dit vars en 'n simbool van optimisme en nuwe hoop. Dit het skilders en digters en musikante geïnspireer om besondere kunswerke te skep. Een van Vivaldi se bekendste werke is juis Die Seisoene, en Van Gogh se Die Peerboom.

Dis belangrik om die simboliek van die peerboom raak te sien. Die boompie is lelik, krom en skeef. Dis die winter se werk. Maar die boompie het oorleef. Van Gogh het self vanweë 'n geestetoestand geweldig swaar gekry, winter beleef, maar die bloeisels staan helder uit as teken van 'n nuwe begin, nuwe hoop. In die middel van die skildery is daar iets wat lyk na 'n geel kol. Op die oorspronklike skildery in die Van Gogh museum kan jy dit egter duidelik uitken. Dis 'n geel skoenlapper wat lente verteenwoordig teenoor die lelike wurm, winter wat sy vorige realiteit was. In die Noordkaap bloei die veldblomme en in Pretoria die Jakarandas. By ons is die tekens van lente die Kameeldoring se geel bolletjies en die Swarthaak se wittes.
Ons is gewoond daaraan om aan die natuur te dink as ons van seisoene praat, maar oral in ons lewe kry ons seisoenale veranderinge. Gary Chapman het 'n boek geskryf met die titel: Seisoene van die huwelik. As iemand vir 'n lang periode mediese behandeling gekry het en dit gaan weer beter, voel dit vir die persoon of 'n nuwe lente aangebreek het. Dieselfde geld vir iemand wat baie ongelukkig was in sy werk en lente beleef in 'n nuwe werk. Sommige ouers reken dat lente vir hulle aangebreek het as die kinders uit die huis is.(!)
So was daar ook verskillende seisoene in die geskiedenis van die volk Israel. As 'n mens Rigters en Konings lees, hoor jy by herhaling hoedat die volk swaargekry het en onderdruk is deur die een af ander ander volk. Dan bid hulle tot die Here en Hy gee die uitkoms. Lente breek aan en dit gaan vir 'n tyd goed. Dan begin hulle weer die afgode dien en 'n winter van swaarkry breek weer aan. So herhaal die geskiedenis hom oor en oor. Totdat die Here hulle in ballingskap laat wegvoer en hulle by die punt kom dat hulle glo dat dit nooit weer beter met hulle sal gaan nie. Hulle is in vreemde land, ver van hul eie land en die tempel en daarom glo hulle dat hulle dus ook ver van die Here af is. Om Esegiël se beeld te gebruik: hulle is pure doodsbeendere. Dan stuur die Here besondere boodskappe deur sy profete, veral Jesaja, waarin die Here hulle moed inpraat en vertel dat Hy vir hulle 'n nuwe toekoms gaan skep. Hy is op die punt om juis dit te doen, het ons in Jesaja 43 gelees.
Maar hierdie teks verwys op 'n spesiale manier na dit wat God in Jesus Christus kom doen het. As gevolg van die optrede van mense was die totale wêreld in duisternis, of anders gesê, in wintertyd. En God het besluit om dit vir die mense nuut te maak, lente te laat word deur sy Seun aarde toe te stuur. In Hom het die wonderlikste lente ooit aangebreek. Dit was so spesiaal dat 'n koor uit die hemel gestuur is om in die nag by Betlehem se velde te gaan sing van God se eer en vrede vir die mense.
So was daar ook verskillende seisoene in die geskiedenis van die kerk. In die tyd van Martin Luther het hy beleef dat die kerk in 'n wintertyd verkeer en daarom het hy sy stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgekap. Daardie daad van hom het 'n lentetyd vir die kerk ingelui. Van toe af sou die kerk nooit weer dieselfde wees nie. Ons is vandag as gereformeerdes die vrug van daardie lente.
In ons verhouding met die Here gebeur dit ook dat ons seisoene belewe. Die eerste geestelike lente in 'n persoon se lewe is baie spesiaal, en behoort eintlik selfs meer spesiaal te wees as die eerste keer se verlief raak. By 'n tiener neem so 'n eerste liefde mos sy hele lewe oor. Alles draai om die geliefde en min ander goed maak saak. So is dit ook met 'n eerste liefde met God. Jy wil net vir almal vertel hoe fantasties dit is om so naby aan die Here te wees.
'n Negatiewe aspek van hierdie eerste geestelike lente is dat die jong gelowige dikwels oorafhanklik raak van een of ander Oom of Tannie wie se woorde amper net so swaar weeg as dit wat in die Bybel staan, soms selfs swaarder. Hulle het antwoorde op al jou vrae en menige ernstige vrae word dikwels met 'n teks van die tafel gevee. Jy glo dat die Here jou waarborg is teen enige swaarkry of seerkry en jy bid enige oomblik en geniet dit om die Bybel self te lees. Dis 'n wonderlike tyd waarin die Here vertrou word met die kleinste besonderhede in jou lewe. Jy kan jou nie indink dat jou geloof dalk eendag mag struikel nie.
En tog gebeur dit. Wanneer 'n ouer aan kanker ly of 'n drankprobleem het, sal hierdie jong gelowige graag hierdie krisis in sy lewe na die Here neem. Hy sal selfs 'n geruime tyd hiervoor kan bid en geduldig op die Here wag. Maar dan word die ouer nie gesond nie en sterf, of die drankprobleem word nie beter nie, of die verhouding met die meisie loop op trane uit. Dan beland hierdie jong geloof in 'n krisis, want God maak nie vir my sin nie. Hy is anders as die eenvoudige en betroubare God wat ek gedink het Hy is. Hy laat dan nie alles vir my reg uitwerk nie! My geloof staan skielik op losse skroewe. Dis winter. Ek begin alles wat ek vroeër as eenvoudig en vanselfsprekend aanvaar het, bevraagteken. Nou is ek van niks meer seker nie, ook nie van God se liefde of selfs sy betaan nie. Ek raak sommer geïrriteerd as mense Bybelstekste vir my aanhaal. Ek weet nie wat ek moet bid nie. Die warm verhouding tussen my en God is tot niet. Ek het onlangs gelees dat iemand skryf dat dit hom bekommer om te hoor dat mense sê dat hulle nou klaar is met die kerk. Asof daar 'n stuk sogenaamde volwassenheid in lê om die argaïese kerk te kan "afskud". En dan is hulle nie net klaar met die kerk nie, hulle is ook sommer klaar met God. Dis tog onwetenskaplik om te glo in 'n God wat jy nie sien of aan kan vat nie. Die Bybel kom uit 'n tyd toe wetenskaplike kennis byna nie bestaan het nie. Ons het nou "groot" geword. (Eintlik te groot vir ons skoene!) Dit klink amper of dit by sommige 'n mode geword het om so te praat, byna asof dit jou gaan laat "in" wees by die "moderne" mense rondom jou.
Daar bestaan 'n wonderlike moontlikheid. Paul Ricour noem dit 'n tweede naïwiteit. 'n Tweede lente. Dit gebeur wanneer my oë op 'n nuwe manier oopgaan vir die feit dat ek verkeerd oor God gedink het. Dis waar ons Job hoor praat, (of liewers stilbly) aan die einde van sy boek. Dis of die Here na my uitreik, hand uitsteek (soos na Petrus toe hy begin sink) en met my oor begin, nuut begin. Dis dan dat ek ontdek dat God se genade nog altyd vir my genoeg was en dat Hy my nie in die steek gelaat het toe ek my rug op Hom gedraai het nie. Dat Hy nie daar is om my bediende te wees nie en dat ek Hom nie kan misbruik om my eie wil te laat seëvier nie. Maar ek beleef dat God sê: die oue is verby. Dit het alles nuut geword, want aan dit wat verby is, sal Ek nooit weer aan dink nie. Dis dan wanneer ek God op sy terme en voorwaardes begin dien en Hom liefhet vir wie Hy is en nie vir dit wat Hy kan bied nie. Ek word weer 'n kind in die geloof en teen alle hoop in bly ek op God hoop, soos van Abraham geskryf word in Hebreërs. Dalk is dit een van die redes waarom Jesus gesê het dat as ons nie soos die kinders word nie, ons nie in die koninkryk van God sal ingaan nie.
Maar dan is dit belangrik om te verstaan dat daar belangrike dinge in die winter gedoen moet word om 'n goeie lente moontlik te maak. Die wingerdboere en die appelboere van die bokkeveld weet dat die bome gesnoei moet word en die grond reg voorberei moet word met die oog op die lente en 'n goeie somer. As gelowiges geld dit ook vir ons. En daar is veral twee sake wat ons moet onthou.
Eerstens wil die lente sê dat die winter nooit die laaste sê in ons lewens het nie. Dis nie die winter of die lente wat die belangrikste sê in ons lewens het nie, maar God. Daarom mag ons bly vasbyt, bly hoop en bly glo in 'n beter toekoms. Die winter sal verbygaan. Dit sal nie vir altyd duur nie. Ons mag bly glo dat God 'n nuwe lente vir ons sal laat aanbreek. En as dit dan nie op hierdie aarde gebeur nie, is dit ook in orde, want ek weet dat daar eendag 'n hemelse lente gaan aanbreek. Dit is die werk van God. Verseker!
Tweedens moet ons die hoop en die geloof in ons kosgee. En die Bybel is die voedsel wat die Here elke dag op ons bord skep. Dit is altyd tot ons beskikking en God bly praat. Hy vernuwe, verander en bemoedig ons van binne uit deur die werk van sy Gees wanneer ons met sy woorde (Woord) besig is. Hy is ons hoop!
Selfs die lente kan vir jou sleg uitdraai as jy nie gedoen het wat nodig is om in die winter gedoen te word nie.
Amen.
Ds Johann

Read 100 times

Groei

Materiaal vir groei & Bybelstudie

Lees meer

Gemeenskap

Reik uit na die gemeenskap

Lees meer

Koinonia

Interaksie tussen gemeentelede

Lees meer

Kalender

Bly op hoogte van al ons gebeure

Lees meer